Last update: November 30, 2010 03:22:44 PM E-mail Print

 

Wat vreet verskillende skaaprasse in die Dorre Karoo?

 

P. C. V. du Toit

Grootfontein Landbou -ontwikkelingsinstituut

Privaatsak X529, Middelburg 5900

 


Inleiding

Daar is algemene belangstelling om die plantegroei van die Dorre Karoo beter te benut sodat meer vleis en wol per hektaar produseer kan word. Met hierdie uitgangspunt as agtergrond is die diëte wat die verskillende skaaprasse soos Merino’s, Dorpers en Afrino’s selekteer, bestudeer. Die hipotese was dat die mate waarin die diëte verskil, 'n aanduiding sou gee oor hoe die verskillende rasse gekombineer kan word om die plantegroei beter te benut, deur die veebelading dan hoër as die norm wat vir die gebied geld, aan te pas (Botha 1984). Die studie is in die Dorre Karoo (Acocks 1988) by die Carnarvon Proefstasie uitgevoer.

 

Metode

Droë ooie en hamels van Merino's, Dorpers en Afrino’s is van slukdermfistels voorsien (Bredon et al 1967). Hulle het die veld vryelik bewei en was aan die veldsamestelling gewoond toe die fistel-ekstrusiemonsters in die winter, lente, somer en herfs vir drie opeenvolgende jare (1984/85 tot 1986/87), geneem is. Op dieselfde tye is plantopnames gedoen om vas te stel wat vir beweiding beskikbaar was. Die geselekteerde diëte is met behulp van die d-indeks (Willmott 1982) met die plantopnames vergelyk. Hoe nader die indeks aan 1 lê, hoe beter stem die twee parameters wat vergelyk word, ooreen. Omgekeerd, hoe meer die indeks na 0 neig, hoe swakker is die ooreenkoms.

 

Resultate

In Tabel1 word die verskillende seisoene met behulp van die d-indeks en die koëffisiënt van determinasie (r2) vergelyk. Die plantopnames het getoon dat die veld nie veel tussen seisoene verskil het nie. Verder het geen komponent van die plantegroei in enige seisoen 'n belangriker posisie beklee as in enige ander seisoen nie.

 

Seisoensdieetseleksie

Die geselekteerde diëte is met die plantopname-resultate vergelyk. Die d-indeks (Fig. 1 tot 4) vergelyk dieet per ras en geslag met die plantopnames. In Fig 1 tot 4 dui sb smaaklike, msb minder smaaklike en osb onsmaaklike bossies aan.

As gevolg van die klein verskille tussen die diëte van hamels en ooie is die data gekombineer vir die uiteensetting in Tabel2. Verder is daar van gemiddeldes oor die periode van drie jaar gebruik gemaak om die neiging in die geselekteerde dieet per seisoen vas te stel.

Oor die algemeen kan gesê word dat die vee in die winter die materiaal bewei wat beskikbaar is (Fig. 1). Die hoofkomponente wat bewei is, was Eberlanzia ferox (doringvygie), Pentzia spinescens (doringkaroo) en volgens waarneming, die grasse Aristida congesta (witsteekgras) en Enneapogon desvauxii (agtdaegras).In die lente konsentreer die vee hoofsaaklik op opslagplante, 5005 Anchusa capensis (ossetongblaar), Lepidium africanum (peperbossie) en Mesembryanthemum nodiflorum (brakslaai) (Fig. 2). In die somer word daar oor die algemeen grasse bewei 5005 Aristida congesta (steekgras) en Enneapogon desvauxii (agtdaegras) (Fig. 3). In die herfs konsentreer vee op die minder smaaklike bossies 5005 Pentzia spinescens (doringkaroo) en neem ook van die beskikbare weiding in (Fig. 4).

 

 

Verskille tussen die skaaprasse

Uit Tabel2 kan afgelei word dat die gemiddelde verskil in die geselekteerde diëte in die groeiseisoen, lente en somer, maar net 5 % is. Hierdie verskil is te klein om die oorweging te regverdig om verskillende rasse te kombineer en die veebelading te verhoog. 'n Konserwatiewe veebelading wat ooreenstem met die huidige weidingskapasiteitsnorm vir die gebied moet eerder nagestreef word.

 

Die toepassing van die beginsels wisselweiding en wisselrus sal 'n stabiele, gesonde en hoogs-produserende plantegroei tot gevolg hê, met genoeg reserwe voeding om lammers gouer met ‘n goeie gradering markklaar te kry.

 

Gevolgtrekking

In die Dorre Karoo is daar ‘n oorvleueling van gemiddeld 95 % in die geselekteerde diëte van die verskillende skaaprasse. Hierdie verskil van 5 % is te klein om die rasse te kombineer en die veebelading te verhoog om die plantegroei beter te benut.

 

Verwysings

ACOCKS, J.RH. 1988. Veld Types of South Africa. Memoirs of the Botanical Survey of South Africa, no 57: Government Printer, Pretoria.

BOTHA, R 1984. Veld: Determination of animal ratio on a mixed dwarf shrub veld in the Karoo and arid areas based on diet selection by Afrino, Dorper, and Merino sheep and Angora goats. Unpublished research facet. Grootfontein Agricultural Development Institute.

BREDON, R.M., TORELL, D.T. & MARSHALL, B. 1967. Measurement of selective grazing of tropical pastures using oesophageal fistulated steers. Journal of Rangeland Management, 20:317-320.

WILLMOTT, C.J. 1982. Some comments on the evaluation of model performance. Bulletin of the American Meteorological Society, 63:1309-1313.