Last update: November 30, 2010 03:27:10 PM E-mail Print

 

Weidingswaarde en verspreiding van Stipagrostis obtusa

en die voorspelling van weidingskapasiteite in die Nama-karoo

 

P. C. V. du Toit

Grootfontein Landbou -ontwikkelingsinstituut

Privaatsak X 529, Middelburg 5900

 


Stipagrostis obtusa (Kortbeen Boesmangras) kom wydverspreid in veral die droër dele van die sentrale en westelike Nama‑karoo voor waar dit die hoofkomponent van diere se diëte uitmaak. Kortbeen Boesmangras se produksie is egter laag. In die verlede (Vorster 1982) het die gras ‘n ekologiese indeks-waarde van 10 gehad, wat gebruik is by die berekening van die huidige weidingskapasiteite. Hierdie waarde was egter buite verhouding hoog tot die primêre produksievermoë van die gras, asook tot die waargenome sekondêre diereproduksie. Die gebruik van die 10 punt-waarde het gevolglik tot die berekening van buite verhouding hoë huidige weidingskapasiteite in die Boesmanland aanleiding gegee. Deur gebruik te maak van verskeie veranderlikes is daar met modellering laer waardes vir Kortbeen Boesmangras beraam en kon agrologies-aanvaarbare huidige weidingskapasiteite vir die gras bereken word.

 

Metode

Kortbeen Boesmangras is saam met verskeie ander grasse en karoobossiesoorte bestudeer. Die studielokaliteite was in die droë en gematigde Nama-karoogebiede geleë. Die eerste lokaliteit was by Carnarvon in die kernverspreidingsgebied van Kortbeen Boesmangras wat in die omgewing van en wes van Carnarvon lê en in die droë Nama-karoo voorkom (Fig. 1 en 2). Die tweede lokaliteit was by Beaufort-Wes, ook in die droë Nama-karoo, maar in die sekondêre verspreidingsgebied van Kortbeen Boesmangras, wat in ‘n sirkel buite om die kernverspreidingsgebied lê. Die derde lokaliteit was by Middelburg. Hier, in 'n sirkel om die sekondêre verspreidingsgebied, kom Kortbeen Boesmangras sporadies voor in die gematigde Nama-karoo.

Die volgende model is opgestel om die weidings-indekswaardes van die grasspesies te beraam, deur gebruik te maak van ‘n aantal veranderlikes:

 

Die weidingsindekswaarde van grasse  = {(kroonuitgestrektheidsbedekking beweibare + voerproduksie + TW + [K ÷(Ca + Mg)]) x eterekstrak‑inhoud} ÷ 100

 

Die volgende veranderlikes is in die model gebruik:

Die oorspronklike formule is:

TW = 75.1 + {(6.25 x log % N) ‑ (0.75 x % ruvesel)} 1

In plaas van ruvesel, ontleed Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut plantspesies vir hulle suur-verteerbare veselinhoud.

 

Die volgende formule skakel suurverteerde vesel om in ruvesel:

Ruvesel = -4.32 + (0.92 x % suurverteerde vesel 2

 

Deur vervanging van formule 2 met formule 1 word TW met behulp van ruproteïen en suurverteerde vesel (SW) bereken:

TW = 75.1 + {(6.25 x log % N) - (0.75 x [-4.32 + (0.92 x % SW)])} 3

 

 

Bespreking

Die model beraam weidingsindekswaardes wat deur die jaar varieer, wat van jaar tot jaar varieer, en wat ook beïnvloed word deur die grondige waarop die plante voorkom, weersfaktore, reënval en temperatuur. Die verskillende gemiddelde weidingsindekswaardes vir Kortbeen Boesmangras by die verskillende bestudeerde lokaliteite op verskillende tye van die jaar word in Tabel1 weergegee.

 

 Die gemiddelde berekende weidingsindekswaarde vir Kortbeen Boesmangras volgens die tabel is 2.5. Hierdie waarde neem die relatief lae produksie en die ongunstige K+Ca+Mg)-verhouding in aanmerking en is vier keer laer as die gras se ekologiese indekswaarde van 10. Die gebruik van die hoë, ouer ekologiese indekswaarde het gelei tot die voorspelling van huidige weidingskapasiteite van ongeveer 10 ha/GVE in die Boesmanland waar Kortbeen . Boesmangras dominant voorkom. Die gemodelleerde weidingsindekswaarde voorspel weidingskapasiteite van ongeveer 40 ha/GVE. Hierdie weidings-kapasiteite vergelyk goed met die weidingskapasiteits-norme van 36 tot 45 ha/GVE wat vir hierdie gebiede vasgestel is en is ook in harmonie met die reënval van die gebied, asook met die veebeladings wat bewaringsbewuste boere in die omgewing toepas.

 

Gevolgtrekking

Agronomies-aanvaarbare weidingsindekswaardes kan vir die grasse van die Nama-karoo beraam word deur gebruik te maak van die model wat hierbo voorgestel is. Hierdie indekswaardes voorspel dan ook weidingskapasiteite nader aan die norms wat in die verskillende agro-ekologiese gebiede geld.

 

Verwysings

BARTHOLOMEW, ~E. 1985. Beef production from kikuyu and Italian ryegrass. Ph.D.-thesis, University of Natal Pietermaritzburg.

BREDON, R.M. & MEAKER, H.J. Undated. How to calculate TDN and DCP of feeds. Leaflet no. 54. Cedara Agricultural  Research Institute, Pietermaritzburg.

GLOVER, J., DUTHIE, D.W. & DOUGALL, H.W. 1960. The total digestible nutrients and gross digestible energy of ruminant feeds. Journal of Agricultural Science, 55:403-408.

DU TOIT, P. C. V. 1998. Using acid detergent fibre in estimating total digestible nutrients of Karoo plants. Journal of South African Science, 94:43-44.

VORSTER, M. 1982. The development of the Ecological Index Method for assessing veld condition in the Karoo. Proceedings of the Grassland Society of southern Africa, 17:84-89.