Bakkies Botha gasspreker by Grootfontein Borgefunksie

Woensdag 6 Junie 2018, het Bakkies Botha as gasspreker by Grootfontein Landboukollege se Borgefunksie te Middelburg opgetree. Tydens hierdie geleentheid is Grootfontein se Pannar Rugbyspan wat 2 tot 6 Julie aan die SA Landboukolleges toernooi te Cedara by Pietermaritzburg gaan deelneem, aangekondig. Die studente, gaste en borge was voorwaar beïndruk met sy toespraak en verskeie vrae (van sy bekende duikslae tot of Chuck Norris vir hom bang is) is gevra.

Tydens sy toespraak het hy onder andere klem gelê op die belangrikheid van borge, aangesien hulle drome skep vir spelers en deur hul bydrae ‘n groot impak op die span ook het. Hy het ook die spelers daarop attent gemaak dat mens nie afhanklik moet wees van produkte en verkeerde middels om jou groter en sterker te maak nie, daar is nie ‘n kortpad tot sukses nie... Volg die langpad en bou jou spiere deur gesonde kos en vleis te eet en te oefen... as jy moeg is, gaan slaap liewer vroeër en rus ordentlik (eerder as om opkikkers of verbode middels te wil gebruik). As ‘n boerseun het Botha sy prioriteite reeds van vroeg af reggekry. Tot onder 16 by Hoërskool Middelburg (Mpumalanga) het hy steeds vir die B en C span van sy skool uitgedraf en het hy eers in sy Matriekjaar vir die Eerste rugbyspan van sy skool uitgedraf. Die dag wat hy op sy matriekvakansie moes vertrek het hy die oproep ontvang wat sy toekoms drasties verander het... Om gekies te word om professionele rugby jou toekoms te maak , is nie vir enigeen beskore nie en wou Bakkies nie hierdie geleentheid laat verbygaan nie. In plaas daarvan dat hy dus saam met sy vriende gaan jol het op Margate, het hy ‘n groot besluit gemaak deur sy droom uit te leef  en sy professionele rugbyloopbaan te begin.

Bakkies Botha het tydens sy 17 jaar in professionele rugby, 11 jaar vir die Bulle en nog 4 jaar in Frankryk gaan speel, waarna hy weer teruggekeer het na Suid-Afrika om vir die Springbokke te speel. Hy het 85 toetse vir die Springbokke en meer as 100 superreeks wedstryde vir die Bulle gespeel. “Julle het ‘n talent, gawe en geleenthede van God gekry...  die groot besluit is of jy dit gaan vat of gaan jy dit los... Bakkies het die geleentheid gekry en dit gevat en gebruik. Dit wat jy op die ou-end bereik in die lewe, máák nie jou as mens nie, maar jou menswees in jouself is belangrik. Julle moet as span respek hê vir mekaar, gaan verdien jou respek as speler vir jou span op die veld. Speel so dat jou spanmaats vir jou respek sal hê en dat jy dit verdien. Gaan geniet die Kollegeweek, jy weet nie of dit dalk jou laaste kans of wedstryd is nie, so gaan speel en geniet dit voluit”, het Bakkies reguit met die spelers gesels.

Daar is 3 goed wat vir Bakkies baie belangrik is in rugby en noem hy dit sy 3 D’s. Dit staan vir: Jy moet ‘n Doelwit hê, jy moet Drome hê, maar wat gaan saam met jou Doelwitte en jou Drome?  DISSIPLINE!! So gaan die lewe ook oor die 3 D’s en is Dissipline regtig báie belangrik. Mens moet gedissiplineerd wees, want dit is waaroor alles in die lewe gaan. Saam met dit alles is die Genade van die Here wat vir ons baie lief is, verseker die belangrikste. Volgens Bakkies besef hy ook self dat soos wat hy in sy lewe harde rugby gespeel het, hy eintlik al baie liggaamsdele kon gebreek het, maar uit genade is hy pynvry soos hy daar staan, omdat die Here vir hom onvoorwaardelik lief is.

Na 17 jaar onthou mense Bakkies as die Springbok wat die All Black met die kop geslaan het, maar leer hy sy kind dat dit nie reg was nie. Onthou niks in die lewe is sonder struikelblokke nie. Bakkies reken self dat hy ‘n harde en ongenaakbare speler was, maar dit was een van daardie insidente wat mens moet oorkom en aanbeweeg. Elke oggend as jy opstaan, moet jy onthou om die spel so te gaan speel dat jou spanmaats op jou trots kan wees.

In antwoord op Kobus Breytenbach(Fielies) se vraag oor wie die hardste en beste opponent was teen wie Bakkies al gespeel het, was sy antwoord “Die beste en hardste speler waarteen Bakkies gespeel het, is nog nie gebore nie, maar die All Blacks was die spesiaalste, hardste en beste toetswedstryde waarin ek gespeel het. Om die All Blacks 3 keer in een jaar te kon wen, was verseker ‘n hoogtepunt!” Die wedstryd teen Frankryk in 2004 was ook vir hom ‘n groot oomblik toe hy vroeg in die wedstryd reeds van die veld was met 17 steke bokant sy oog en kon hy nie wag om vinnig genoeg weer op die veld te kom om die stut in die hande te kry wat hom van die veld gespeel het!!

Al was daar ‘n groot kans dat Bakkies in 2015 na die Wêreldbeker kon gaan (wat dan ook sy VIERDE Wêreldbeker sou wees), was dit vir hom ‘n reuse besluit wat hy in sy lewe moes maak. Vir hom is dit ‘n groot voorreg om te kan sê dat dit sy eie besluit was om op daardie stadium van sy lewe nie verder aan te gaan met toets rugby nie.  Hier het hy by ‘n kruispad in sy lewe gekom oor of hy geld gaan najaag en of  hy ‘n belofte aan sy dogtertjie gaan nakom.  Bakkies het egter besluit dat hy volgens sy eie term klaar is met rugby en liewer meer tyd saam met sy gesin gaan spandeer.

Soos Bakkies die einde van sy term bereik het, het Grootfontein se rugby voorsitter van die Grootfontein Rugbyklub, Niel Schoeman ook by hierdie geleentheid die einde van sy termyn aangekondig. Schoeman is sedert 1999 reeds betrokke by Grootfontein Rugby asook die President van die SA Landboukolleges Rugby Vereniging.

Na afloop van al die vrae, is die Pannarspan aangekondig en ‘n wynveiling gehou  met wyne wat deur Grootfontein se eie Bakkies (Adrian Stander) se Pa geskenk is.