Grootfontein Navorsingstrust se 13de Dohne Merinostoet Produksieveiling is op Vrydag 21 Februarie 2020 te Grootfontein Landboukollege aangebied. Die topram is vir R16 000 deur Mnr ASJ van der Walt van Middelburg aangekoop. Die 2de duurste ram is teen R15 500 aan Mnr Richard Rodgers (ook van Middelburg) verkoop. Kopers van so ver as Verkeerdevlei in die Vrystaat, Heidelberg Kaap en selfs Kokstad het die veiling bygewoon.  Die ramme is teen ‘n gemiddelde prys van R9 330 verkoop.

As oud-student van Grootfontein Landboukollege, woon Mnr Shaun Muir jaarliks die Dohne Merinoveiling by en sorg dat hy nooit met ‘n leë vrag teruggaan Kokstad toe nie. Mnr Muir wat meer as 10 ramme tydens hierdie veiling gekoop het, is baie tevrede met sy aankope en sien daarna uit om sy kudde met die uitstekende genetika van Grootfontein se dohnemerino ramme verder uit te brei.  

Tydens die Dohne Merino Telersgenootskap van Suid-Afrika se jaarvergadering en gala geleentheid wat op 18 Februarie 2020 in Bloemfontein plaasgevind het, is die Grootfontein Dohne Merinostoet vir hul besonderse prestasie en bydraes ten opsigte van die Dohne Merino teelt, as die wenners van Streek 2 aangewys! Mnr Marius van Heerden wat aan bewind is van die navorsingstrust se Dohne Merinostoet, is waarlik trots op hierdie prestasie en skryf die sukses deels toe aan die kundigheid van die span navorsers op Grootfontein asook die entoesiasme waarmee die stoet bestuur word.

Foto: Danie Strauss (BKB afslaer), Marius van Heerden (verkoper namens Grootfontein Dohne Merinostoet ) en Danie Lombard (BKB) by die top ram wat tydens die veiling te Grootfontein verkoop is.