LANDBOUKOLLEGE GROOTFONTEIN STUDENTE BESOEK NIEU ZEELAND


Elna Kitching (boorling van Middelburg, Oos-Kaap) en Luvo Kiyane (boorling van Elliot, Oos-Kaap), twee derdejaarstudente van die Landboukollege Grootfontein, naby Middelburg in die Oos-Kaap, het as 2011 SA kampioene in die SA Nasionale Wolhanteringskampioenskappe die Protea span verteenwoordig in Nieu Zeeland tydens die 2012 Golden Shears Wêreldkampioenskappe. Die kampioenskap, wat elke tweede jaar gehou word, is in Masterton aangebied en was die 15 van sy soort.

Die twee Grootfonteiners het vanaf die OR Thambo Internasionale Lughawe te Johannesburg vertrek na Wellington, Nieu Zeeland.  Vandaar het hulle per veerboot (“ferry”) na die Suid-Eiland gereis waar hul besoek afgelê het by onder meer die bekende Pancake Rocks, Gletzers en ‘n verskillende mere.  Mnr Peter Black, van die dorp Orupuki in die suide van die Suid-Eiland, ‘n skeerinstrukteur, was behulpsaam met afrondings opleiding en afrigting van die SA-span.  Hy is die afgelope 2 jaar betrokke by die NWKV en is behulpsaam met die afrigting in die Gevorderde  Instrukteurskursusse.  Gedurende hierdie tyd het hul in verskillende skeerskure gewerk met meestal Romney-vagte.  Bernadette Ford, ‘n baie bekende in skeerkringe (haar broer Darren hou die Wêreldrekord vir die skeer van 720 Romney ooie in 9 uur) het hul verder touwys gemaak met die verwerking van Romney-vagte en wat van hul tydens die Wêreldkampioenskappe verwag sou word.   Vir oefening het hulle onder meer deelgeneem aan ‘n wolklaskompetisie in dorp Gore.  Hierdie was ‘n vuurdoop en het as oefening gedien vir die Wêreldkampioenskappe.   Terug op die Noord-Eiland het hulle na Pongeroa gereis  waar hul by Tony en Fayln Hoggard op die plaas Broken Hill in skeerskure gewerk het vir verdere oefening.  Hier het hul gedurende af tydjies onder meer die kokende modderpoele en swaelwater “geysers” van Rotarua besoek. Hiervandaan het hul vertrek na Masterton waar hulle goed gevaar het in die Nieu Zeelandse kampioenskappe. Elna met ‘n punt van 199 en Luvo met ‘n punt van 306.   Die laagste punt (wenpunt) was 140.  Op hierdie dag het hul ook aan die Wêreldoptog met die landsvlae deelgeneem deur die strate van Masterton.   Daarna het die Wêreldkampioenskappe gevolg en tydens die eerste ronde moes hulle  2 Romney vagte en 2 Corriedale vagte klas.  Gedurende hierdie uitdun het Elna 9de gekom en Luvo 24ste uit 27 deelnemers.  Die span het almal die aand die Wêreld-dinee bygewoon waartydens hul, hul Nasionale klere gedra het.    Die volgende dag moes hul 4 kort Romney vagte klas, na hierdie uitdunne was Elna 10de in die Wêreldkampioenskappe.   Die daaropvolgende dag het Elna deelgeneem aan die plaatfinaal en eindig 4de.  Op hierdie dag het die Suid-Afrikaanse handskeerders 1ste en 2de plekke behaal.  Die span het daarna na amper ‘n maand in Nieu Zeeland vertrek vanaf Masterton na Wellington, ‘n dag daar spandeer en die volgende dag via Sydney na Suid-Afrika vertrek.  

             Elna Kitching                                                Luvo Kiyane