Last update: September 30, 2013 09:27:31 AM E-mail Print

 

TROPGESONDHEID GEDURENDE DROOOGTE


Moderne kleinveerasse is geteel vir hoë vlakke van produksie.  Dit het die voorkeure van die metaboliese prosesse in die liggaam verander.  Wanneer voedingsbronne meer beperk raak word die beskikbare energie, proteïne en ander nutriente gereserveer vir die oorlewingsfunksies van die liggaam.  Dit verskil tussen rasse.

Merino skape sal al hoe minder hulpbronne beskikbaar stel aan wol groei en spiere terwyl hulle die dragtigheid beskerm.  Dorper skape sal meer geredelik die fetus afgooi maar spiermassa behou.

Die immuunstelsel word dikwels afgeskeep in diere wat geteel is vir produksie wanneer hulle aan wanvoeding ly.

Een van die mees algemene probleme tydens droogte is dat die biesmelk immuniteit nie oorgedra word na die bok of skaap lam nie.  Dit lei tot lammers met swak immuniteit veral teen siektes wat deur Clostridium bakterië veroorsaak word.  Die voerinname is ook abnormaal, minder smaaklike voere word gevreet en selfs giftige of irriterende plante wat nie normaalweg deel is van die dieet nie word gevreet.  Aanvulling sal ook lei to verhoogde inname van byvoorbeeld grane en ureum.

Die gevolg van bogenoemde is dat die mirkroorganismes in die grootpens en derm nie normaal is nie en ook onstabiel word.  Bloednier kom gevolglik voor op ‘n veel vroëer stadium as gewoonlik.  Lammers begin vrek van Bloednier op 3 tot 4 weke oud.  Dit word dus aanbeveel  dat die volgende praktyke gevolg word tydens droogtes.

  1. Ent lammers vanaf 4 weke ouderdom met ‘n enkel antigeen Bloednier entstof, aluin gepresipiteer.  (Bloednier Aluin OBP G1350 of Pulpyvax MSD G2192).
  2. Herhaal die inenting elke ses weke tot op die normale speenouderdom.
  3. Versterk die lam se immuniteit met vitamine A en spoorelemente 10 dae na die eerste inspuiting.  (Embamin TE + Embavit Merial).
  4. Moenie die lammers met wurmmiddels doseer tot ten minste 10 dae na die eerste Bloednier inenting nie.
  5. Dit sal tot voordeel van die ooi en die lam wees om vroeg te speen  As kruipvoer reeds vroeg gegee word sal dit moontlik wees om die lammers reeds op 50 dae te speen (vra gerus oor die bestuur van vroegspeen).        

Ons het die afgelope paar weke verskeie gevalle gehad van lammervrektes weens Bloednier op 3 tot 6 weke oud.  Bloedpens kom gewoonlik voor in lammers onder 3 weke oud.

Volwasse skape  benodig ook spesiale aandag:

  1. Ernstige wanvoeding, veral as die proteïnvlakke laag is kan lei tot verswakte immuniteit.  Diere wat herstel behoort ‘n skraagdosis van die algemene entstowwe te ontvang.  Bloednier is veral belangrik.
  2. Diere met verswakte immuniteit is meer vatbaar vir bankrotwurm spesies en kraalprobleme soos  Trichuris (Sambokwurm) en Strongyloides (Wit Bankrotwurm).  Immuniteit kan met vitamine en spoorelemente versterk word.
  3. Bahandeling vir wurmparasiete mag benodig word ten spyte van die algemen opvatting dat dit nie nodig is in ‘n droogte nie.  Dit is belangrik om die skape se wurmeier telling dop te hou wanneer parasiete wat nie bloed suig nie ‘n probleem is.  Haarwurm is selde ‘n probleem tydens droogtes maar diere is meer vatbaar.
  4. Eweknie groep bestuur moet toegepas word tydens droogtevoeding.  Troppe behoort verdeel te word op grond van ouderdom, geslag, grootte, kondisietelling, dragtigheidstatus en ras soos benodig om kompetisie tydens voer te verminder.
  5. Dit is minder stress om diere elke tweede dag te voer as daagliks wanneer daar geen natuurlike weiding beskikbaar is nie.
  6. Voer naby die water, naby die huis en by skaduwee om energievermorsing te voorkom en om beter toesig te kan hou.
  7. Ureum moet versigtig gebruik word.  Onthou as daar 1% ureum in voer is dan sal diere 10g ureum inneem saam met 1 kg voer.  Tien gram is die veilige vlak om vergiftiging te voorkom.  Dominante diere mag dalk meer as dit vreet selfs al word die inname beperk tot gemiddeld  900g (die aanbevole  inname vir onderhoud van ‘n 50 kg skaap).  Hou ook in gedagte dat die mikrobes in die grootpens dalk nie so aktief is nie en dalk nie die ureum so goed kan omskakel na proteïne nie.
  8. Oorvreet aan grane en suurpens is ‘n algemene probleem selfs al word mielies gevoer wat met kalk behandel is en die inname meer as 300 g tot 500 g per dag is.         

Na goeie reën sal die natuurlike weiding se voedingswaarde aanvanklik baie laag wees.  Wanvoeding kan nog steeds ernstig wees.  Ons beveel aan dat byvoeding slegs verminder moet word nadat die alternatiewe voere volwasse genoeg is om aan diere se behoeftes te voldoen.

Ons beklemtoon weer dat diere wat swaargekry het gedurende ‘n droogte weer ingeënt moet word sodra hulle kondisie weer optel sodat hulle immuniteit herstel  kan word.

Skakel my gerus vir meer inligting.

Dr. Johan A van Rooyen M.Med.Vet.,M.B.A., M. in Sust. Agric. PDTE

State Veterinarian:  Research and Training

Staatsveearts:  Navorsing en Opleiding

Grootfontein Agricultural Development Institute

Grootfontein Landbou-navorsingsinstituut

Cel: 082 463 3087  Tel 049 842 1113 Ext. 6632

Facs: +27 49 842 4352 Facs-email 0866338928

E-mail: JohanVR@nda.agric.za

CC:  flocprotec@telkomsa.net